Source: Beeld Vrydag 2 Augustus 2013

Al hoe meer mense in hul 20’s en selfs 30’s bly nog onder ma en pa se dak. Ander jongmense trek terug huis toe en staan as die “boemerang” generasie bekend. Karla Janse van Vuuren het meer uitgevind oor dié verskynsel

Onlangse navorsing wat in Brittanje gedoen is, wys meer as drie miljoen ouerpare bo 50 het steeds volwasse kinders in die huis. Die gemiddelde ouderdom van dié kinders is 27 jaar. ‘n Meningspeiling in Amerika wys sowat 30% van ouerpare het volwasse kinders onder hul dak.

“Hoewel ek nie syfers vir Suid-Afrika tot my beskikking het nie, kan ek uit my professionele ervaring daarvan getuig dat heelwat volwasse kinders ook in ons land in hul ouerhuis aanbly,” sê Joanna Kleovoulou, ‘n kliniese sielkundige van PsychMatters in Johannesburg.

Daar is verskeie redes hiervoor, soos die opvatting dat ‘n mens eers uittrek ná jou troue, die kind se geldsake of selfs emosionele redes, waar nie die kind óf die ouer die naelstring kan knip nie.
“Dikwels bly kinders ook aan om om te sien na hul ouers wat dalk fisieke en finansiële bystand nodig het,” voeg Kleovoulou by.

‘n Algemene verskynsel wêreldwyd is dat al hoe meer studente, nadat hulle ‘n ruk onafhanklik geleef het, terugtrek huis toe omdat hulle nie werk kan kry nie. Dié jong mense staan as die “boemerang”-generasie bekend.

“Dit is natuurlik baie lekkerder om onafhanklik te wees en ‘n verhouding te bou met iemand spesiaal – dit is baie moeilik om twee verhoudings (een met ‘n lewensmaat en een met jou ouers) onder een dak aan die gang te hou.

“Dit kan baie spanning veroorsaak en dit is nie goed as die ouers té veel van hul volwasse kind se persoonlike lewe weet nie,” sê Nan Sauer, ‘n terapeut van Johannesburg.

Kommunikasie is belangrik

Waar twee generasies saam onder een dak bly, kan problem uitbroei, sê Sauer. “In jou 20’s is dit belangrik om te leer hoe om emosioneel en finansieel weg van jou ouers te kan staan. Ouers kan natuurlik steeds ondersteuning bied, maar jul lewens moenie meer so ineengevleg wees nie.”

Kleovoulou voeg by ouer mense begin dink aan aftrede en wil nie meer fokus op verantwoordelikhede soos kind grootmaak nie.

“Dit veroorsaak spanning, want nou moet hulle steeds hul persoonlike ruimte deel met hul kinders en planne beraam om die situasie te laat werk.

“Dit is hoekom goeie kommunikasie so belangrik is, anders kan sterk emosies soos skuldgevoelens en gekrenktheid die oorhand kry.”

‘n Groot gevaar is dat kinders voel hulle is geregtig daarop om van hul ouers te vat sonder dat hulle iets terugdoen, sê Kleovoulou.

“Hulle raak dan weer afhanklik van hul ouers en word soms onverantwoordelik en manipulerend. Tog is dit ook ouers se verantwoordelikheid om verwagtinge met die verhouding duidelik te maak.”

Dit is selfs ‘n goeie idee om ‘n kontrak op te stel wat die reels en grense neerlê, sê Sauer. Bykomende bronne: “www.dailymail.co.uk; www.independent.co.uk

Só kan jy ditmaak werk

Joanna Kleovoulou en Nan Sauer gee raad oor hoe almal onder een dak oor die weg kan kom:

  • Daar moet duidelikheid wees oor die verantwoordelikhede in die huis, veral wie betaal wat, of dit nou daaglikse of maandelikse uitgawes is. Take in die huis moet ook toegeken word. Ondergeen omstandighede mag die kindsoos ‘n kind in die huis leef nie – hy of sy moet verkieslik huur betaal.
  • Dit is belangrik om ‘n openhartige gesprek te hê oor hoe lank die kind in die ouerhuis gaan aanbly en ‘n plan van aksie uit te werk. Die kind moet doelwitte hê en ‘n plan om hom of haar finansieel en emosioneel te bemagtig. Hou gesinsvergaderings waar die situasie in die huis bespreek word.
  • Gesels oor die nuwe verhouding tussen julle as volwassenes en moenie terugglip in ou patrone van ouerenkind nie. Die kind moet hom of haar as lid van ‘n span sien en respek hê vir die ouers se ouderdom en huis.
  • Dit is belangrik om grense te stel, veral waar die kind saam met sy of haar lewensmaat in ‘n ouerhuis bly.
  • Hou die positiewe in gedagte – dit kan ‘n geleentheid wees om verhoudings te versterk en mekaar te ondersteun.
Share This